Tok-tok-tok! …hoor ek waar ek in my kombuis sit en groente kap vir ‘n heerlike sop vir vanaand. Dis ysig koud buite en wat is nou lekkerder as ‘n dik groentesop as dit so koud is?
Ek staan op en stap na my rooi voordeur toe, daar is ‘n onstuimige gesprek aan die gang anderkant die deur. Met die oopmaak storm drie siele se woorde my ore te binne sodat my kop rondomtalie.
“Wag! wag ‘n bietjie! Een op ‘n slag asseblief? Wat op dees aarde gaan aan met julle?”
“Dis ons sóp! Dis aardige sop en ons is honger en vies en wil van joune kom eet asseblief?” koor die drie voort, asof ek nie om genade vir een op ‘n slag se storie, gevra het nie.
“Híér! proe, dis smaakloos!” seg die een en druk sy pot sop in my hande.
“Myne ook, dis suur en oneetlik!” kerm die tweede een.
Die derde siel gooi syne in die tuin uit, oor sy skouer sê hy: “Myne is galbitter, dit help nie eers jy proe nie, slég seg ek vir jou, slég verby. Ek is woedend kwaad oor die sop en alles!!”
“Kom tog maar bietjie in, ek is juis besig om my sop se groente te kap, daar is al ‘n paar lekker sopbene op die stoof, besig om te kook.”
Ek stap voor hulle uit en nooi hulle om langs die tafel te kom sit.
Die eerste sopSiel vra: “Wat sit jy in jou sop? Dit ruik só lekker! Sal jy vir ons jou resep gee asseblief?”
“Ek gaan julle wys wat ek insit maar vertel julle vir my tussendeur ook wat in júlle soppe is, dalk kan ek raad gee. Die geheim is soms nie wat jy insit nie, maar wat jy weglaat.”
Die tweede sopSiel seg: “Ek het ook uie en sopbene gebraai soos jy hier het, dan het ek pampoen blokkies en wortels en aartappels ingesit. Ek het ook ‘n lekker ryp tamatie en sout en peper ingesit. Hoekom is myne so suur?”
Die derde sopSiel praat bo-oor die suur sopSiel voor ek kan antwoord: “Ek het al daardie goed ingesit en ook ‘n handvol ertjies uit my tuin. Hoekom is myne so bitter, dit behoort nog lekkerder te wees?” en hy gril dat die tafel bewe.
Die eerste sopSiel begin sy resep aframmel: “Ek moes self lensies kook, ek was so lus daarvoor maar dis oneetbaar, die lensies is hard en proe soos niks. Ek kan nie vir myself sop maak nie en ek is alleen en niemand wil my help nie.”
Ek luister na die drie en onthou hoe ek gesukkel het om my lewe se sop te kook tot dit lekker is. Aanvanklik het ek so baie foute gemaak en dikwels sop weggegooi of maar die slegte sop ingewurg om die honger te besweer.
Nóú weet ek dat jy met groot versigtigheid moet omgaan met jou siel se sop, wat jy ingooi en hoeveel liefde jy in jou dra, bepaal die soort sop wat jou siel kry.
“Julle moet onthou, mens proe alles wat jy insit, selfs dit wat jy per ongeluk laat inval of dink of praat. My sop word met liefde gemaak, ek maak seker dat daar nie ‘n druppel iets inval wat dit sleg kan affekteer nie.”
Die drie teem gelyk: “Soos waaat?”
“Vertel vir my wat het in julle kombuise aangegaan die dag wat julle, julle soppe gekook het?”
Die eerste sopSiel val weg en sê: “Niks, daar het niks aangegaan nie en ek het nie lus gehad om dit alleen vir myself te doen nie en toe word ek honger en ek gooi net die lensies in die water en toe proe dit soos niks. Sal jy vir my van jou sop inskep asseblief??”
Ek voel hoe vies ek my stilweg maar haal asem: “Nee sopSiel, ek kan nie vir jou sop kook nie, dis jou eie werk. Jou siel het gesonde Lewens-sop nodig, jy moet moeite doen om jou resep bymekaar te kook. Mens kan nie op ‘n ander se sop potte staatmaak nie.
“Die ding is so, goeie sop vat tyd, sout en ‘n bietjie geurmiddels. Jy moet lekker vars groente insit en dalk ‘n stukkie vleisie of ‘n aftreksel met smaak. Dan kook jy dit tydsaam en jy proe gereeld of dit al lekker is. Jy gooi niks daarin wat nie heerlik of voedsaam is nie. Jou lensies is kliphard en daar is geen sout of geurmiddels in nie. Ek dink jy moet jou luiheid loop inspit dat dit kompos word.”
Die tweede sopSiel vra of hy sy resep kan vertel want hy is seker dis nie sy eie skuld dat sy sop suur is nie: “Ek het alles reg gedoen, ek het mos vertel van groente en sopbene en alles. Maar daar het ietsie gebeur wat dalk ‘n probleempie kan wees. Ek het baie ongelukkig gevoel, asynsuur om die waarheid te sê. Die lewe is so onregverdig. Almal het alles en het dit makliker as ek. Dalk het ek my eie sop suur gedink en gewroeg?”
Ek kyk op en sien hoe die siel self besef: “Ai sopSiel, ek is jammer om dit te hoor. Ja dit is ongelukkig so dat alles wat mens ingooi, jou lewe se sop affekteer. As jy liefdevol voel dan is jou sop heerlik, as jy kwaad is, dan sal jou sop brand.”
Die derde sopSiel sit kop onderstebo en prewel onder sy baard: “Dan weet ek ook hoekom my sop so bitter is.”
“Vertel vir ons van jou bitter sop?” vra ek die arme onderstebo kop.
“Dis oor ek so bitter is oor die dinge wat ek nie kan vergewe nie. Al my soppe proe altyd bietjie bitter, party het ook al soos rooi rissies gebrand. Ek het nie geweet dit affekteer jou sop nie. My sop kom meesal so sleg uit dat ek nie kan waag om enigiemand te nooi om by my te kom eet nie. Dis kwaad sop.”
Ek kry die spul so jammer dat ek besluit om vandag my siel se sop met hulle te deel: “Nou-ja toe julle drie, sal dit help as julle vandag by my eet? My sop is nounet reg, wag, ek sny vars brood by, dan hou ons ‘n sop fesie!”
Die drie juig kliphard: “Ag dankie, dankie vir jou uitnodiging. Ons kannie meer uithou met die heerlike reuk in die lug nie.”
Ons sit aan en deel ‘n pot sop met dankiebly vrolikheid. Die drie belowe om hulle sop van nou af met groot versigtigheid te kook en vir my ‘n bakkie vol te bring as hulle bietjie geoefen het.